Dinsdag 05 September 2017

‘n Skets oor Passie deur Lynelle Clark


Gedeel van Tekst Plaatjies.com

Daar was ‘n tyd dat my lewe ‘n nimmereindigende swart put was; waarvan die einde nie sigbaar was nie. Ek het nie geweet of daar enigsins vir my ‘n toekoms was nie en het eenvoudige gestop om te droom, niks het sin gemaak nie. Vir ‘n lang tyd was dit ‘n goeie wegkruip plek – en ek was heel gemaklik daarmee. Maar toe word ek wakker geskrik, in so ‘n mate dat ek besef het ek is ontevrede met my lewe. Die drang na meer het alles oorheersend geword en ek het gerebelleer teen die normale. Ek het geweier om langer aan bande gelê te word en het in ‘n nuwe lewe in gestap.
In die skud-proses is die lewe geneig om jou wêreld om te krap, jou te skud en jou as te ware dwing om uit daardie zone te beweeg. Ja, dit is erg. Dit is baie erg. By tye wil jy verdrink tydends die proses, dit is versmorend selfs, maar dan vind jy iets wat jou anker in die midde van die rond-slingerende strome. Dit is daardie anker wat jou toelaat om die wêreld met nuwe oë te bekyk.
In my geval was my anker skryf. Ons het pas ons besigheid verloor en skielik was ek werkloos asook kinders-loos. My volwasse kinders het in daardie tydperk elkeen hul eie lewe aangepak en net ek en my gewese man was oor. Alles het op eenslag gebeur en ek moes dit verwerk in die beste sin moontlik. Gedurende die skommelings jare was skryf een van die dinge wat my gehelp het in my ontvlugting en geanker het. Dit was ‘n plek waar ek kon ‘praat’ wat op my hart was sonder dat die papier met my terug gepraat of veroordeel het. Ek kon net myself wees.
In die proses het skryf ‘n wêreld vir my oopgemaak waarvan ek nie voorheen bewus was nie. Ek is lief vir lees, was nog altyd, maar het nooit die proses van skryf of die ontwikkeling daarvan verstaan nie totdat ek my eie stories begin skryf het. Om die storie te skryf is seker die maklikste van alles – praat met enige gesoute skrywer en hulle sal dieselfde vertel. Die groot werk kom by die slyp daarvan, die skep van karakters om die storie geloofwaardig te maak, die navorsing - tot by die finale eindpunt: ‘n gepubliseerde boek. En dan, net voor jy dink nou kan jy rus begin die bemarking daarvan. Jy word bemarker, voer onderhoude, boer op die sosiale netwerke en bly gesels oor jou werk totdat jy raakgesien word. Skryf neem jou wêreld oor.
Hierdie proses laat ‘n passie opvlam wat jou aanspoor vir die volgende uitdaging. Sodra die gogga jou gebyt het los dit jou nie; ten spyte van die opofferinge hou jy aan om te glo in jouself. Passie verander jou – en net die wat dit self beleef kan dit verstaan. Dit vernuwe jou denke en open ‘n wêreld so groot dat jy verstom staan oor die omvang daarvan. Passie maak jou vry.
@Lynelle Clark 2017

Die skets word vandag gedeel op Rainbow Gospel Radio deur Ria Fourie.  


  

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

In gesprek met Kleinboer, of te wel Fanie de Villiers.

Ek is Fanie de Villers, en skryf onder die naam Kleinboer.   Ek is in 1956 in die Boksburg-Benoni-hospitaal gebore, blouerig en ses weke v...